About this role
AfriForum is op soek na ’n proefleser wat verantwoordelik sal wees vir die gehaltebeheer van AfriForum se kommunikasie, asook die koördinering van groter kommunikasieprojekte.
Die suksesvolle kandidaat sal ’n belangrike rol speel om te verseker dat AfriForum se kommunikasie professioneel, taalkundig korrek en konsekwent is. Die persoon sal ook die kommunikasieproses van omvangryke projekte koördineer en toesien dat verskillende rolspelers, werkvloei en spertye doeltreffend bestuur word.
Verantwoordelikhede
Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees om:
- teks noukeurig te proeflees en spel-, tik-, leesteken-, grammatika-, formaterings- en ander taalfoute te identifiseer en reg te stel;
- daaglikse en dringende proefleesversoeke te hanteer, insluitend kort teks vir sosialemediaplatforms en ander digitale kanale;
- bestaande AfriForum-webtuistes en toepassings sistematies na te gaan om taal-, spel- en teksfoute te identifiseer en die regstelling daarvan met die betrokke personeel of ontwikkelaars te koördineer;
- nuwe teks vir webtuistes en toepassings te proeflees voordat dit gepubliseer word;
- bykomende proefleesondersteuning te bied waar kapasiteit benodig word;
- die kommunikasieproses van groter projekte te koördineer, soos verslae, bundels, handleidings en ander omvangryke dokumente;
- realistiese tydlyne en spertye vir projekte in oorleg met die betrokke rolspelers vas te stel en te kommunikeer;
- die vordering van projekte deur die verskillende fases van taalversorging, proeflees, uitleg, grafiese ontwerp, wysigings en finale goedkeuring te monitor;
- kapasiteit, oorvleuelende versoeke en moontlike knelpunte vroegtydig te identifiseer om prioriteite te help bepaal; en
- met interne rolspelers te kommunikeer om te verseker dat projekte betyds en volgens ’n hoëgehaltestandaard afgehandel word.
Vereistes
Om vir die pos in aanmerking te kom, benodig jy die volgende:
- ’n Toepaslike tersiêre kwalifikasie in Afrikaans, tale, taalpraktyk, kommunikasie of ’n verwante veld
- Uitstekende kennis van Afrikaans en Engels, maar met ’n klem op Afrikaans
- Uitstekende spel-, grammatika- en taalvaardighede
- ’n Deeglike kennis van Afrikaanse en Engelse taal- en spelreëls
- Besonder goeie aandag aan detail en die vermoë om foute konsekwent raak te sien
- Goeie organiserings-, beplannings- en koördineringsvaardighede
- Die vermoë om verskeie projekte, rolspelers en spertye gelyktydig te bestuur
- Die vermoë om prioriteite te bepaal en onder tydsdruk ’n hoë standaard van werk te handhaaf
Vorige ervaring in proeflees, taalversorging, redigering en/of die koördinering van kommunikasie- of publikasieprojekte sal voordelig wees.
Indien jy nie binne drie weke ná die sluitingsdatum terugvoer ontvang nie, kan jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was.